الثلاثاء، 17 نوفمبر 2015

Nieu-Seeland

Nieu-Seeland is 'n land gevorm deur twee hoofeilande en 'n aantal kleiner eilande in die suidwestelike Stille Oseaan. 'n Algemene Maorinaam vir Nieu-Seeland is Aotearoa, algemeen vertaal as Land van die Lang Wit Wolk. Nieu-Seeland staan bekend vir sy isolasie: die land word deur die Tasmansee, wat ongeveer 2 000 kilometer wyd is, van sy noordwestelike buurland Australië geskei. Die naaste buurlande is Nieu-KaledoniëFidji en Tonga in die noorde en Antarktika in die suide.
Nieu-Seeland kan nog in geografiese nog in kulturele opsig by 'n bepaalde vasteland gereken word: die land lê gedeeltelik op die Australiese asook die Pasifiese Plaat en toon sowel ooreenkomste met die hoofsaaklik Europese kultuur van Australië asook die Polinesiese gedeelte van Oseanië. Die eilandnasie vorm die westelike punt van die Polinesiese Driehoek. Nieu-Seeland is 'n koninkryk in die Gemenebes van Nasies met 'n demokraties-parlementêre grondwet.
Nieu-Seeland verskil van ander nywerheidslande deur sy ongewone ekonomiese struktuur - die belangrikste sektore is land- en bosbou, voedselverwerking en toerisme. Dikwels word na Nieu-Seeland as 'n "groen eiland" verwys, veral vanweë sy lae bevolkingsdigtheid, sy ongeskonde natuur asook sy veelsydige en - danksy die geïsoleerde ligging - unieke flora.
Van Nieu-Seeland se vier miljoen inwoners woon rofweg drie miljoen op die Noordeiland en een miljoen op die Suideiland. Hierdie eilande is onder die grootste in die wêreld en die gekombineerde landarea is vergelykbaar met die Britse Eilande of Colorado. Tesame met Aotearoa, was 'n ander Maorinaam vir Nieu-Seeland Niu Tireni, 'n transliterasie van die Engelse naam.
Ander eilande het veel kleiner bevolkings en dek baie minder landarea. Die belangrikste van hierdie eilande is:
  • Stewart-eiland (suid van die Suideiland), die derde grootste eiland volgens landarea met 'n bevolking van sowat 400.
  • Waiheke-eiland, 'n eiland in Auckland se Haurakibaai, en met sowat 7000 mense (veel meer in die somer), die derde mees dig bewoonde eiland in Nieu-Seeland.
  • Groot Barrière-eiland, oos van die Haurakibaai
  • Chatham-eilande, 'n afgeleë groep eilande met 'n bevolking van sowat 750.
Daar is meer Maori-stamme op die Noord- as op die Suideiland. Veral sedert die 1990's het 'n groot aantal Suid-Afrikaanse immigrante hulle in Nieu-Seeland gevestig. Tans is meer as 40 000 Nieu-Seelanders in Suid-Afrika gebore, maar ook sowat 18 000 Amerikaners het 'n nuwe tuiste in die Pasifiese eilandstaat gevind.[6]

ليست هناك تعليقات:

إرسال تعليق